‘Aborsie-dokter’ op heterdaad betrap

’n Sluwe kalant wat die polisie en wetstoepassingseenheid al baie lank ontglip omdat hy pamflette oor onwettige aborsies op lamppale plak en homself as ’n dokter voordoen, is uiteindelik vandag in Bellville vasgetrek.


’n Sluwe kalant wat die polisie en wetstoepassingseenheid al baie lank ontglip omdat hy pamflette oor onwettige aborsies op lamppale plak en homself as ’n dokter voordoen, is uiteindelik vandag in Bellville vasgetrek.

Dié man en sy makker is bekend daarvoor dat hulle hulself identifiseer as “dokters” wat aborsie-dienste aanbied – en is ’n gesamentlike groot kopseer vir plaaslike wetstoepassers wat dié onooglike plakkers dan ten duurste moet verwyder.

“ ’n Klein, maar belangrike oorwinning,” noem JP Smith, die Stad se burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, dié arrestasie.

“Beamptes van die Voortrekkerwegkorridorstadsverbeteringsdistrik (VRCID) het vanoggend een van die twee ‘dokters’ gevang wat aborsie-plakkers oor die stad heen opplak, en al tienduisende Rand se skade aan munisipale infrastruktuur aangerig het,” sê hy.

Derek Bock, operasionele hoof van die VRCID, vertel hulle het die man, ’n Ugandese burger, vanoggend om ongeveer 05:00 betrap terwyl hy dié aanstootlike pamflette teen stadseiendom in Voortrekkerweg in Bellville geplak het.

“Die persoon wat vasgetrek is, beweer om ’n dokter te wees, soos daar op die pamflette staan wat in sy besit gevind is. Dít opsigself is onwettig, aangesien hy homself voordoen as iemand in die mediese bedryf,” sê Bock.

“Hy is bekend as ‘dr. Musa’ en het ontken dat hy dié ‘geneesheer’ was, maar toe die VRCID-beamptes die nommer op die pamflet bel, het sy persoonlike foon in sy sak begin lui.”

Die man is aan die Metropolisie oorhandig vir verdere ondersoek en om klagtes teen hom te lê, sê Bock.

Hy sê die Stad spandeer derduisende aan belastingbetalersgeld elke jaar om dié onooglike pamflette te verwyder, wat “niks meer nie as valse advertering is”.

“Mense word gevang en uit hul geld gekul deur hierdie sogenaamde ‘dokters’. Die VRCID wil graag aanbeveel dat die Stad daardie sakeondernemings of individue wat hierdie pamflette druk, op dieselfde manier hanteer as die skrootmetaalhandelaars wat gesteelde Stadseiendom van informele skroot-afvalgaarders inkoop.”

Hy meen diegene wat die pamflette druk, maak geld uit iemand wat ’n misdryf pleeg, hetsy dit nou is om jouself as ’n dokter voor te doen, of om Stadseiendom te ontsier.

You need to be Logged In to leave a comment.