‘n Skenking van rolstoele is op ‘n spesiale geleentheid saam met Radio Tygerberg gemaak. Die Alta du Toit-gemeenskap het hul hartlike dank in ‘n tyd van groot behoefte uitgespreek.

In reaksie op ‘n noodroep het Chris Willemse, met die hulp van Radio Tygerberg en ander, op ‘n merkwaardige manier ingetree en agt splinternuwe rolstoele aan die inwoners van die Alta du Toit-sentrum geskenk.

Vir baie mense is ‘n rolstoel nie net ‘n manier om van een plek na ‘n ander te beweeg nie – dit is ‘n simbool van vryheid, waardigheid en onafhanklikheid. Hierdie noodsaaklike hulpmiddel word te dikwels oor die hoof gesien, maar dit verander dié wat met mobiliteitsuitdagings leef se lewe drasties.

Danksy Willemse se barmhartige bydrae het agt inwoners nou die kans om makliker te beweeg en voluit te leef.

Dit begin by twee broers

Willemse vertel aan TygerBurger hulle het al sowat 500 rolstoele oor die afgelope vier jaar in samewerking met organisasies en sakeondernemings geskenk – van so ver as Gqeberha (Port Elizabeth) tot by Mosselbaai.

“Dit het als begin toe ek so vyf jaar gelede ‘n gemeubileerde huis gekoop en besluit het om van die meubels te skenk. Ons is toe verwys na twee broers wat saam woon.”

Hy sê die een broer, wat ook slegs een arm het, was meestal bedlêend weens ‘n heupoperasie.

“Ek hoor toe dat dié man op ‘n kombers gesleep word badkamer toe. Net daar besluit ek iets moet verander.”

Sedertdien het Willemse die doel bewerkstellig om twee vragskiphouers vol nuwe rolstoele aan te skaf en, deur borge en verhoudings met sakelui en verskillende organisasies soos die Afrikaanse Christelike Vrouevereniging (ACVV), aan die nodiges te skenk.

“Jy kan nie glo hoe ‘n gemeenskap kan saamwerk en vinnig planne beraam om die regte hulp vir die regte mense te kry nie. Ek is verlede week ook toe deur raadslid Ronél Viljoen gekontak om die borg aan die Alta du Toit-sentrum moontlik te maak.”

Gemeenskap bedank

Die sentrum se bestuur het groot dank aan die Gerber-familie van Truform Bedding wat Willemse en sy familie met hierdie skenking gehelp het, uitgespreek. Truform Bedding is ‘n matrasvervaardiger in Kaapstad.

“Ons wil ook vir Ronél Viljoen bedank vir haar aanhoudende ondersteuning om brûe in die gemeenskap te bou” – die sentrum ag haar ‘n werklike “Alta-engel”.

Die sentrum se arbeidsterapeut beoordeel voortdurend die gebruik en toestand van hulpmiddels soos rolstoele en loopstokke. In haar gereelde assesserings het sy al menigmaal die behoefte aan rolstoele beklemtoon.

Hierdie skenking is oorhandig by ‘n spesiale geleentheid saam met Radio Tygerberg, waar die Alta du Toit-gemeenskap hul hartlike dankbaarheid in ‘n tyd van groot behoefte uitgespreek het. Emosies het hoog geloop toe die sentrum se arbeidsterapeut en mediese hoof hul vreugde en waardering gedeel en die groot impak op die inwoners se lewensgehalte beklemtoon het.

‘Rolstoele transformeer’

“Hierdie is nie net ‘n skenking nie – dis ‘n transformasie,” het een van die sentrum se personeel gesê. “Ons is diep dankbaar teenoor Chris Willemse vir sy medelye en vinnige optrede.”

Die Alta du Toit-sentrum dien volwassenes met intellektuele en fisieke gestremdhede en strewe daarna om sorg en ontwikkeling te bied.

Skenkings soos dié help om hierdie missie lewend te hou.

Skakel Chris by 083 640 4823 of Anna Engelbrecht by 082 776 7220 om by die Willemses se rolstoelmissie betrokke te raak.

You need to be Logged In to leave a comment.