Hermina van Schalkwyk wys die meswonde aan haar arms soos sy probeer keer het dat sy doodgesteek word.


Twee verdagtes – ’n man en ’n vrou – verskyn op Donderdag 24 Februarie in die landdroshof in Goodwood op ’n aanklag van die aanranding van ’n 74-jarige vrou van Ruyterwacht.

“Ek en my vriendin, Hermina van Schalkwyk (74), het die klagte op Dinsdag 6 Januarie by die Elsiesrivier-polisiekantoor ingedien nadat sy met ’n skerp voorwerp gesteek en ook uit haar bed gegooi is. Ons woon in ’n kommune vir senior burgers en die twee voer ’n skrikbewind hier waar ons woon.

“Die aand van die aanranding het hulle by ons woonstel ingebars en kos en geld geëis, maar toe hulle dit nie in die woonstel kry nie, het hulle oorgegaan tot geweld,” sê Andre Swart van Ruyterwacht.

Volgens hom wou die verdagtes sy vriendin doodsteek en sy het die steekhoue met haar arms probeer afweer en is vol gate gesteek.

Swart kon daarin slaag om die twee verdagtes by die deur uit te boender en moes toe mediese hulp vir sy vriendin kry.

“Soos ek reeds genoem het – ons is nie die enigste seniors wat so geterroriseer word nie; daar is ander wat ook onder die twee se geniepsigheid deurloop, maar hulle bly maar stil. Ek het op my selfoon foto’s van haar beserings geneem en dit as bewyse by die klagstaat laat voeg,” sê Swart.

Voor die verdagtes se verskyning op 24 Februarie in die hof op die aanrandingsklag, is Swart en Van Schalkwyk eers op Dinsdag 15 Februarie in die landdroshof in Bishop Lavis om te hoor of hul aansoek om ’n interdik teen die verdagtes suksesvol is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article