‘n 64-Jarige man van Brackenfell staan tereg op aanklagte van die seksuele aanranding van `n 13-jarige seun.
Die man het op Maandag 2 Februarie in die Bluedowns-landdroshof verskyn waar sy aansoek om borgtog aangehoor is. Die borgtogaansoek is deur die staat teengestaan en uitspraak word voorbehou.
Die verdagte is in Januarie by sy woning in `n woonkompleks in Bracken Heights in hegtenis geneem nadat `n ander inwoner van die woonkompleks die polisie ontbied het. Die seun het glo die aanranding aan die inwoner beken.
Saam met kinders geswem
Volgens inligting bekom deur TygerBurger het die verdagte die kind na bewering na sy huis toe gelok met lekkergoed en bordspeletjies, en is ook gereeld saam met ander kinders in die woonkompleks se swembad gesien. Daar word beweer dat die kind al vir `n geruime tyd deur die man seksueel aangerand is.
Die man se eie vyfjarige seun het ook ten tyde van die beweerde aanranding by hom gewoon. Daar is verneem dat die kind intussen in sy moeder se sorg geplaas is.
TygerBurger het vertroulik verneem dat die man reeds twee vorige soortgelyke veroordelings het. Hy sal aangehou word tot uitspraak gelewer word.





