50 vrugtebome tydens loodsprojek by Laerskool Sarepta, in Kuilsrivier geplant

Altesame 50 vrugtebome is op Vrydag 13 Oktober by die Laerskool Sarepta geplant as deel van ’n loodsprojek vir ’n groter inisiatief (Green for Life Cape) om bome by skole in die Wes-Kaap in 2024 te plant.


Altesame 50 vrugtebome is op Vrydag 13 Oktober by die Laerskool Sarepta geplant as deel van ’n loodsprojek vir ’n groter inisiatief (Green for Life Cape) om bome by skole in die Wes-Kaap in 2024 te plant.

Mario Solomons, onderhoof, sê Mandy Leibbrandt van Apple Tree Initiatives en Tanya van Stade van Seeds for Life het die skool oor die moontlikheid genader om deel van die loodsprojek te wees.

“Hulle het my gekontak en gevra of dit sal moontlik wees, of ons die ruimte daarvoor het en of ons die nodige hulpbronne, soos water, by die skool het.”

Solomons sê die skool het watertenks, sowel as ’n boorgat met ’n pomp wat 100% werk.

“Die departement van bosbou het die bome geskenk. Hulle het dit ook vir ons van Grabouw af hiernatoe vervoer.”

Die breër skoolgemeenskap is by die projek betrek.

“Ons het die ouers gevra om kompos en beenmeel vir ons te borg.”

Solomons sê om erkenning aan die ouers vir hul bydrae te gee, kon diegene wat bygedra het Vrydag ’n plaatjie met hul naam aan ’n boom hang.

Net vrugtebome, waaronder sitrus, perske, vye en appel, is aangeplant met die doel dat die skool die vrugte sal kan gebruik.

Dit sal nie net in die skool se kombuis vir maaltye gebruik word nie, maar ook uitgedeel word om nood in die skoolgemeenskap te verlig, sê Solomons.

“Van die vrugte sal ons verwerk of inlê. Alles gaan ons in die skool en die gemeenskap terugploeg.”

Gretna Charles (onderwyser) by haar naam-boompie.

Charlotte Abrahams by haar “naam-boompie”.

Agter van links: Georgiano Davids, Carlisle de Waal, Jaden Jacobs, Elmo Hendricks (terreinwerker). Voor is Edward Nero (skoonmaker) en Gavin Goliath.

Kwezi Langa en Huntly de Wee (gr. 7) het help plant.
Tanya van Stade (Seeds for Life), Nicole October (ouer) en Yolanda Titus (ouma).

Tanya van Stade (Seeds for Life), Nicole October (ouer) en Yolanda Titus (ouma).

Van links is Grant Twigg, burgemeesterskomiteelid vir vaste afval, Jerome Solomons (skoolhoof), Wouter de Vos (wyksraadslid) en Mario Solomons (onderhoof).

Jaden Jacobs en Presley Zingana, beide in graad 7, het dit geniet om te help plant.FOTO’: Carina Roux

Samewerking

Leibbrandt is die mede-stigter van Apple Tree Initiatives, ’n nie-winsgewende organisasie wat gehelp het om inwoners naby Suikerbossiepark in Protea Village in Brackenfell betrokke te kry om dit van ’n stedelike park te omskep in ’n groente- en vrugtetuin, waarby die gemeenskap baat vind.

Leibbrandt sê Jan Odendaal van Green for Life het gehelp om Apple Tree Initiatives (ATI) by die provinsiale departement van bosbou geregistreer te kry.

Buiten die groot gemeenskapstuin, het ATI ook ’n program om mense te help om groente in hul eie erwe te plant. Dit is waar Tanya van Stade van Seeds for Life (Organic Urban Farm) betrokke is, sê sy.

”Ons het eendag besluit om te kyk of daar skole is wat sou belangstel om vrugtebome te plant en dit deel van hul opvoedkundige program te maak. Van Stade van Kuilsrivier het die Laerskool Sarepta voorgestel. Leibbrandt sê die skool het dadelik ingestem.

AfriForum en Kaapse Forum gaan help om die groter projek, Green for Life Cape, uit te brei en sal die administrasie hanteer. “Die skole sal moet registreer en aan sekere vereistes moet voldoen,” sê Leibbrandt.

Sarepta se hoof, Jerome Solomons, het Vrydag die eerste boom by die skool geplant. Personeellede en graad 7-leerders, sowel as ouers en verteenwoordigers van die verskeie rolspelers wat betrokke is, het ook moue opgerol en boompies geplant.

Besoek www.freeworldcreations.co.za vir meer inligting oor Apple Tree Initiatives.

You need to be Logged In to leave a comment.