In ‘n nuwe poging om stedelike wetteloosheid die hoof te bied, gaan 35 nuwe metropolisiebeamptes vanaf September in Subraad 2 ontplooi word as deel van die Stad Kaapstad se R40 miljard-infrastruktuurprogram.

Die ontplooing,`n sleutelbelegging om die agterstand in munisipale- en verkeerspolisiëring in te haal, sal toegewyde buurtpolisiëring verskaf binne elk van die sewe wyke in Brackenfell en Kraaifontein – dus vyf beamptes vir elke wyk.

Die nuwe beamptes sal volgens JP Smith, die Stad se burgemeesterskomiteelid vir veiligheid, fokus op probleemkwessies binne die spesifieke wyke. Oor die hele stad heen sal daar 700 beamptes ontplooi word.

Saam met Smith het Geordin Hill-Lewis, Kaapstadse burgemeenster, onlangs die Stad se opleidingskollege besoek waar die kadette tans die finale fase van hul opleiding voltooi.

“Ons is op koers om `n historiese eerste in Kaapstad te lewer. Die beamptes sal unieke uitdagings soos probleemgeboue en verkeersoortredings in hul onderskeie buurte kan takel, en ook die inwoners daar leer ken. Hierdie soort persoonlike polisiëring, waar verhoudings en vertroue gebou word, kan slegs tot meer positiewe uitkomste lei,” het Hill-Lewis ná die besoek gesê.

“Buiten toegewyde buurtpolisiëring in elke wyk, sal ons nuwe ontplooiing ook begeleidingsdienste insluit vir diensleweringspanne in die voorste linie in ons mees kwesbare gemeenskappe, waar geweldsmisdaad en afpersing `n groot uitdaging is. Die N2 sal ook baat vind by `n toegewyde ontplooiing om veiligheid op hierdie kritieke snelwegroete te verbeter,” het Smith gesê.

Ten volle operasioneel

Die kandidate het `n 18 maande lange program voltooi waarvan 12 maande `n verkeersbeamptekursus was. Hulle het ook `n driemaandekursus in metropolisiëring voltooi, wat vuurwapenbekwaamheidsopleiding insluit. Daarbenewens het hul gespesialiseerde opleiding ontvang in buurtveiligheid, sowel as taktiese opleiding.

Beamptes is ook deur hul passies gesit met behulp van die Stad se nuutste vuurwapensimulatoropleiding. EPIC-handtoestelle sal ook aan elke beampte toegeken word vir digitale polisiëringskoördinering en die aanmeld van oortredings, sowel as lyfkameras.

Rhynhard Bresler, wykraadslid vir Wyk 101 in dele van Kraaifontein en Brackenfell, sê dis sy verwagting dat die mees dringende kwessies binne die gebiede aangepak sal word onder die bestuur van die onderskeie wykraadslede.

Spoedoortredings op paaie soos De Bronweg en verkeersknope op die Okavango-pad is net twee sulke kwessies, sê hy.

“Daar is ook `n kommerwekkende toename in dwelmhandel in baie van die Kraaifontein-buurte noord van die N1, waar gewone polisiemanne dun gesaai is as gevolg van die ander hoëmisdaadgebiede in Kraaifontein.

“Die metropolisiebeamptes sal moet help by misdaadvrotkolle soos op die hoek van Lucullusstraat en die N1, waar diefstal uit die agterkant van bakkies wat by die kruising stilhou, onverpoos voortduur.

“Dis my verwagting dat beter sigbaarheid dié soort kwessies die hoof sal bied,” sê hy.

Johann Loods, raadslid vir Brackenfell se Wyk 8, sê hy sien uit na die direktoraat se ontplooiing.

“Met hul breër polisiëringsmagte sal die metropolisiebeamptes doeltreffend kan help met misdaadvoorkoming deur die Brackenfell-polisie operasioneel te ondersteun. Hulle sal ook verkeersreëls op hoofpaaie kan afdwing met behulp van stop-en-deursoek-optredes, en uitdagings soos bosslapers by die Brackenfell-treinstasie en verskeie parke kan takel. Die wyk sal ook baat vind by bykomende personeel vir die polisiëring van stadsverordenings deur reaksietyd op inwoners se diensversoeke te verkort,” sê hy.

TygerBurger het ook vandeesweek vertroulik verneem dat die beamptes ten volle operasioneel sal wees met al die nodige toerusting met twee patrollievoertuie per wyk, dus 14 nuwe voertuie vir die subraad.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article