Met die somer wat reeds sy kop uitgesteek het, raak mense weer lus om hul kampeertoerusting in te pak en na hul gunsteling-kampeerplek toe te gaan vir die naweek of dalk vir ’n vakansie.
Ilse Oberholzer van Citrusdal kampeer graag saam met haar man, Dirk, en twee dogtertjies, Anli en Paula. Sy het oulike wenke oor saamneemdinge wat hierdie somer handig te pas sal kom – of jy nou ’n gesoute kampeerder is, of dit vir die eerste keer wil probeer:
- . Sonskerm.
- . Insekweerder (nie die soort wat jou en jou medekampeerders laat verstik nie) en ’n vlieëplak.
- . ’n Muskietnet wat jy oor jou of jou kind se bed kan gooi – veral as jou kinders vergeet om hul tente saans toe te maak.
- . Spesiale ligte wat nie goggas lok nie.
- . ’n Deurmatjie wat jy voor jou tent kan plaas om oortollige sand uit die tent te hou, asook jou skoppie en besempie.
- . ’n Pakkie nat sneesdoekies wat skoonmaak maklik maak.
- . ’n Laken wat toegestik is soos ’n slaapsak: Sit dit binne-in ’n slaapsak om dit ’n bietjie skoner te hou, veral vir kinders of by kampeerplekke wat baie donker grond het.
- . Kratte wat dig sluit en slotte vir tente se ritssluiters (party bobbejane is so slim dat hulle tente se ritssluiters oop- én toemaak).
- . Plastiekskoenerakkies met baie sakkies waarin jy dinge kan bêre wat maklik wegraak, soos motorsleutels of kinders se haarknippies en -rekkies.
- . Hangers waarmee jy jou klere badkamer toe kan neem, want daar is dikwels te min droë neersitplek.
- . ’n Hangmat as jy in ’n boomryke kampterrein kampeer.
- . ’n Kombersie waarmee jy piekniek onder ’n koelteboom kan hou.
- . Alternatiewe kampresepte, soos roomyshorinkies wat ’n mens vul met eetgoed soos mini-malvalekkers, vrugte en sjokoladestukkies, in foelie toedraai en dan op die vuur braai vir poeding.
- . ’n Bottel wat dig sluit: As jy nie ’n tipiese eierhouer het nie, breek die eiers sommer voor die tyd in die bottel. As die pad wat julle ry rof is, skud net die bottel en gooi uit vir roereier.
- . ’n Warmfles: As jy water in ’n ketel op die vuur kook, neem ’n warmfles saam om ’n paar keer se kook te spaar. Kook genoeg en hou dit warm in die fles.
- . ’n Nat handdoek oor jou koelhouer as jy nie ’n yskas het nie.
- . Bakke met deksels (deurskynend indien moontlik) vir al die goggas en paddas wat die kinders vang.
- . Binnebande vir kinders (en grootmense) as daar ’n rivier is waarin julle kan swem.
- . Handwerkgom vir as die kinders goedjies wil maak van stokkies, klippies, blare of skulpies.
- . ’n Viltpen en deurskynende naellak: As jy kinders het wat maklik ronddwaal, skryf jou selfoonnommer op hul arms met die viltpen en seël dit met deurskynende naellak.
Laastens: Vind uit by watter kampeerterreine jy woonwaens kan huur – dis gerieflik as jy byvoorbeeld op die ingewing van die oomblik besluit om te gaan kampeer. Dit verg minder energie omdat jy nie al die kampgoed hoef in te pak nie en jy het minder tyd nodig om op- en af te slaan.