Johanna Strauss, bestuurder van die Durbanville-kinderhuis, lees vir een van die kinders uit ’n boekie voor.


Die Durbanville-kinderhuis oorweeg aanlyn skoolonderrig vir sowat nege kinders in sy sorg wat nog nie vanjaar by ’n skool geplaas kon word nie.

“Skole vind dit moeilik om kinders te akkommodeer wat meer as twee jaar agter is met hul skoolopleiding. Ons kyk tans na aanlyn skoolopleiding vir hierdie kinders,“ sê Johanna Strauss, bestuurder van die kinderhuis.

“Wanneer ’n kind in die kinderhuis opgeneem word, ondergaan almal skolastiese vaardigheidstoetse. Indien nodig, doen ons ook ’n IK-toets. Ons vind dan ’n skool wat die spesifieke kind se individuele ontwikkelingsbehoeftes die beste pas. Dit sluit spesiale, vaardigheids- asook hoofstroomskole, in,” sê sy.

“Ons kinders is tans in 38 verskillende skole, wat groot vervoeronkoste, asook onkostes aan skoolklere meebring.

“Indien plek nie gevind kan word nie, as gevolg van ontwikkelingsagterstande of oorbevolking van skole, sal die kind die informele skool op die terrein bywoon, waar hulle toegang tot ondersteuning van ons remediërende onderwyser sal ontvang,” sê Strauss.

Leeragterstande

Die kinderhuis wil ook sy vroeëkinderondersteuningsprogram uitbrei en benodig donasies van opvoedkundige speletjies, boekies en arbeidsterapie-apparaat.

“Ons arbeidsterapeut toets ons kleintjies vir skoolgereedheid. Vanaf tweejarige ouderdom plaas ons ons kinders in geskikte skole. As gevolg van hul leeragterstande word hulle smiddae bygestaan deur ’n vrywilliger in ons “speelbiblioteek” wat hulle blootstel aan ontwikkelingspeletjies en aktiwiteite wat hul individuele ontwikkelingsuitdagings aanspreek,” sê Strauss.

“Al ons kinders het in een of ander stadium trauma beleef, en dit bring mee dat hulle soms sosiaal onaanvaarbare, asook aggressiewe gedrag by die skool openbaar,” sê sy.

Die kinderhuis het daarom ’n vaardigheidsprogram om die kinders te help om hul sosiale vaardighede te verbeter om die vrees te oorkom om skool toe te gaan.

“Dit maak hulle ook bewus van hoe om binne ’n formele skoolopset toepaslike gedrag te toon,” sê sy.

Die kinderhuis se grootste behoeftes is skoolklere, skryfbehoeftes, petrolgeld, asook opvoedkundige boekies en speletjies.

“Ons wil graag die talle individue en organisasies bedank wat broodnodige skoolskryfbehoeftes, asook skoolklere en -skoene geskenk het. Ek hoop dat hierdie ’n besondere jaar van God se vrede en ryke seën sal wees vir u,” sê Strauss.

144 kinders in 38 verskillende skole

“Stel jou voor dat jy skoolklere moet organiseer en skoolboeke moet oortrek vir 144 kinders wat 38 verskillende skole bywoon? Ons haal ons hoed af vir ons kinderversorgers vir al hul harde werk en toewyding,” sê sy.

Die kinderhuis se maatskaplike werkers het daarin geslaag om familiebesoeke vir 76 van die kinders gedurende die pas afgelope skoolvakansie te reël.

“Ons kon ook kospakkies saamstuur, om te verseker dat ons kinders en hul gesinne genoeg het om te eet in die feestyd. Dit is belangrik vir ons kinders om die gemeenskappe te besoek waaruit hulle verwyder is. Hulle besoek nie noodwendig hul ouers nie, maar in die meeste gevalle is dit die oumas, ooms en tannies,” sê Strauss.

“Ons het ’n vakansieprogram aangebied vir die kinders wat moes agterbly. Dit is vir hulle baie emosioneel en hartseer om nie hul gesinne te kan besoek nie. Ons het probeer om dit so onvergeetlik as moontlik vir hulle te maak deur hulle op uitstappies te neem en spesiale bederfies te gee.

“Die kinders het ’n Stormers-rugbywedstryd bygewoon, stranduitstappies meegemaak, en Kers- en Oujaarsaandpartytjies geniet.

“Al die uitstappies is mildelik geborg en lede van die gemeenskap het ook besoek afgelê en lekkernye saamgebring.”

Donasies

Die kinders wat gedurende die vakansie agtergebly het, het ook op Kersdag ’n geskenk ontvang. Al hierdie geskenke was donasies van omgee-individue en organisasies.

“Ons wil graag groot lof uitspreek teenoor almal wat goedere vir ons liefdadigheids- en boekwinkel geskenk het.

“ ’n Spesiale dankie ook aan al die kliënte wat ons gereeld ondersteun. Dankie aan elkeen wat gereeld bydra,” sê Strauss.

Sy daag al hul ondersteuners uit om R100 per maand te skenk en hul families en vriende uit te daag om dieselfde te doen.

“R100 is een wegneemete, maar vir die kinderhuis is dit ’n bydrae tot die welstand van een van ons kinders.

“Diegene van julle wat ons reeds maandeliks ondersteun, weet dat ons nie sonder jul volgehoue ondersteuning die Durbanville-kinderhuis sal kan onderhou nie,” sê Strauss.

Kontak Louise Coetzee by dch@dchome.org.za vir meer inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article