132 jaar tronkstraf vir pedofiel

Die klagtes wissel van seksuele aanranding, besit van kinderpornografie en die vervaardiging van pornografiese materiaal.


’n Man is in die Parow-streekhof op Donderdag 12 Oktober skuldig bevind op 448 klagtes nadat hy in 2015 met pornografiese materiaal van kinders op sy rekenaar by sy werk in Stikland betrap is.

Die klagtes wissel van seksuele aanranding, besit van kinderpornografie en die vervaardiging van pornografiese materiaal.

Ao. Henrietta van Niekerk, Bellville-polisiewoordvoerder, het gesê die man is drie keer tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis, asook ’n bykomende vonnis van 57 jaar op alternatiewe klagte ontvang. 

“Geen van hierdie vonnisse loop saam nie, wat beteken dat die verdagte 132 jaar effektiewe tronkstraf moet uitdien.”

Sy het ook gesê dat die inligting oor die pornografiese materiaal deur een van die man se mede-werkers op sy rekenaar gekry is. Hy het toe die  Bellville-polisie meegedeel en die saak is oorhandig aan die polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe (GKS).

“Ao. Johan Kotze was die ondersoekbeampte. Die beweringe is opgevolg en daar is op die verdagte se rekenaar beslag gelê. Op die rekenaar was duisende pornografiese foto’s en video’s van twee spesifieke kinders gevind. 

“Met verdere ondersoek is bevind die twee kinders, onderskeidelik 10 en 12 jaar oud, van Malmesbury afkomstig is en dat die verdagte met die toestemming van hul ouers die kinders gaan haal het om naweke by hom te kuier.”

Sy het gesê in dié spesifieke geval het die verdagte bevriend geraak met die familie, hul finansieel begin ondersteun en sodoende die ouers en die kinders se vertroue gewen. 

“Die ouers het die kinders naweke na die verdagte gestuur. Die verdagte was vir vyf jaar ’n familievriend en die meisies het eers die afgelope twee jaar by sy huis gekuier.”

Die GKS-eenheid word geprys vir hul uitsonderlike en toegewyde diens. 

“Die verdagte is as pedofiel verklaar.”

You need to be Logged In to leave a comment.