’n Twaalfjarige seun is Dinsdag 33 keer met ‘n skerp voorwerp gesteek toe hy helder oordag tussen 11:30 en 12:00 deur ‘n volwasse man in ’n speelpark in Paarlstraat in Goodwood, ‘n noordelike voorstad van Kaapstad, aangeval is.
Die ma van die seun, wat nie geïdentifiseer mag word nie, sê haar kind en vier vriende was besig om sokker te speel “soos wat hulle elke dag doen” in die park langsaan die woonstelblok waar hulle woon.
Sy sê volgens die ander kinders het daar ‘n vreemde man rondgestaan en hulle dopgehou. Die man het toe blykbaar reguit na hom gestap en hom gevra wat sy naam is. Daarna het die man hom na bewering gepootjie en begin steek.
Sy was ten tyde van die voorval by die werk. Een van die kinders het haar ander seun, ‘n 19-jarige, gaan roep.
Hy het sy jong broer gaan optel en sy wonde probeer toedruk. Sy sê die seun het nie ‘n selfoon by hom gehad nie. Sy kan nie verstaan wat die rede vir die aanval op hom was nie.
Die seun is met veelvuldige beserings in die N1 Stad-hospitaal opgeneem waar hy Dinsdagaand ’n noodoperasie ondergaan het om onder meer ’n aar aan die agterkant van sy nek te herstel. Die vrou sê dis onseker of haar seun die volle gebruik van sy hande sal terugkry, aangesien dit ernstig beseer is toe hy probeer keer het.
Hy sal Donderdag ’n operasie aan albei sy hande ondergaan.
Kapt. Waynne Theunis, woordvoerder van die Goodwood-polisie, het bevestig dat die vermeende aanvaller, ’n 31-jarige man, in hegtenis geneem is en Donderdag in die hof in Goodwood sal verskyn.
*Netwerk24 het die naam van die seun verwyder na die hooggeregshof in Pretoria Dinsdag beslis het dat minderjarige slagoffers van ’n misdaad mag nie geïdentifiseer word nie.