Altesame 10 mense is verlede Vrydag in Ravensmead in hegtenis geneem weens onder meer poging tot moord en openbare geweld nadat die polisie op ’n groot hoeveelheid drank by ’n woonstelblok beslag gelê het.
Die polisie het drank soos bier en dooswyn in ’n stegie gevind en het begin rondvra aan wie die drank behoort, maar niemand wou eienaarskap aanvaar nie. Dit was toe dat die polisie beslag op die drank gelê het.
Dit was egter nie die einde van die voorval nie. Volgens kapt. Odwa Makupula, woordvoerder van die Ravensmead-polisie, het daar ’n skietery uit woonstelblokke op die polisie ontstaan. “Ons moes versterkings ontbied omdat die situasie baie gevaarlik begin word het. Een polisiebeampte en een wetstoepassingsbeampte is in die skietery gewond,” sê Makupula.
JP Smith, die Stad Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekerheid, het Vrydag gesê dit was bendelede wat op die polisie en wetstoepassers geskiet het. “Die polisie se lugvleuel en bende-eenheid is ook ontplooi en die forensiese afdeling het bewyse op die toneel ingesamel.”
Hy het die geweld veroordeel.
Johannes Bastian, voorsitter van die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum, sê hy is uiters teleurgesteld oor die geweld wat deur die plaaslike gemeenskap gepleeg is. Hy het die voorval as ’n “oorlogsone” beskryf.
“Die voorval is net weer ’n bewys dat daar te min beamptes in Ravensmead is. Toe daar op die polisie geskiet is, was daar nie genoeg beamptes om die situasie te hanteer nie en versterkings moes ingeroep word. Indien daar meer beamptes was, kon die situasie vinnig en daadwerklik vasgevat gewees het. Die polisie moet begin erken dat die misdaadprobleem in Ravensmead groter is as wat hulle dink,” sê Bastian.
Op video’s wat op sosiale media die ronde doen, kan duidelik gesien word hoe gemeenskapslede die polisie en wetstoepassers met voorwerpe gooi en skote kon gehoor word.


